Tierkop Kommando

Ons Visie

Om ‘n Afrikaner Christen familie te wees wat deur meelewende en spontane aksies, aktief betrokke is en daardeur groei bewerkstellig.

Kry Koers

Byeenkomste

Ons kom Vrydag-aande van 17:30 tot 19:00 by Tierkop se spankamers bymekaar. Kom kuier, leer en speel saam!

‘n BONDIGE GESKIEDENIS VAN TIERKOP VOORTREKKERKOMMANDO

Op 14 Junie 1965 het die kommando se stigtingsvergadering in die personeelkamer van Laerskool Parow-Oos plaasgevind. Die eerste spanvergadering het op 27 Junie 1965 plaasgevind by Laerskool Parow-Oos.

Laerskool De Tyger het vroeër in dieselfde jaar sy deure oopgemaak en die behoefte aan ‘n Voortrekkerkommando in die ontwikkelende gemeenskap het ontstaan.

Die eerste skoolhoof van Laerskool De Tyger, Dr Francois Knoetze is dan ook verkies tot die eerste kommandoleier van Tierkop Kommando.

Die kommando het begin as ‘n Penkop en Drawwertjie (laerskool seuns en dogters) kommando en in 1967 spog die kommando ook met Verkenners (hoërskool seuns en dogters).

Die naam Tierkop is gekies omrede van die Tygerberg koppie wat in die omgewing geleë is. Tierkop kommando het in 1965 afgestig van Parow kommando.

Vir die eerste paar jaar van die kommando se bestaan is spanvergaderings en funksies by die 2 laerskole Parow-Oos en De Tyger gehou. Die behoefte aan eie spankamers was egter groot.

Onderhandelings het begin vir grond van die munisipaliteit wat in 1971 aan die kommando toegeken is in Culemborgstraat, Parow-Oos. Die gemeenskap het ingespring en deur verskeie projekte en fondsinsamelings die fondse bekom vir die bouwerk. In die middel sewentiger jare is die eerste vleuel van die spankamers gebou. Lede van die kommando het baie ure en naweke se harde werk verrig om die voltooide geboue uit te verf en in te rig.

Hierdie vleuel met 7 spankamers, ‘n kantoor, saal, kombuis en toilette is met ‘n luisterryke funksie ingewy op 13 November 1976 deur die destydse Onderhoofleidster van Die Voortrekkers, Mev Magriet Muller.

Die kommando se getalle het mettertyd so toegeneem dat die bstaande fasiliteite onvoldoende geraak het. Op 15 November 1980 word die tweede deel van die spankamerkompleks, 10 ekstra spankamers, ingewy.